Monday 26: Editor's Choice: Beeld: Meer in die kop as die oog
2010-07-26

Gerhard Marx is dié week aan die beurt in Kunskyk, die rubriek waarin Suid-Afrikaanse kunstenaars die geleentheid kry om die werk van ’n ander kunstenaar te bespreek. Marx het die werk van die Italiaanse kunstenaar Giuseppe Penone gekies.

Gerhard Marx se kunstenaarsloopbaan het vele fasette. Hy is benewens ’n kunstenaar wat teken- en grafiese drukwerk doen ook verhoogregisseur, rolprentmaker en werk saam met kuns te naars soos Philip Miller, Maja Marx, Lara Foot, die Handspring Puppet Company en William Kentridge.

Saam met Foot het hy gewerk aan die produksie Tsepang; saam met Kentridge aan die Fire Walker in Johannesburg en vanjaar aan The World on Its Hind Legs by die Apartheidsmuseum.

Marx was die regisseur van Rewind: A Cantata for Voice, Tape and Testimony wat in 2007 in Massachusetts in die VSA aangebied is en die volgende jaar in die Markteater in Johannesburg herhaal is.

Saam met Maja Marx was hy vir dié produksie ook verantwoordelik vir ’n interaktiewe rolprent. Die musiek vir Rewind is geskryf deur Philip Miller.

Marx gebruik in sy tekeninge en beeldhouwerke gevonde materiale soos padkaarte en plantmateriaal en bied dit só aan dat dit nuwe, subjektiewe betekenisse aanneem.

Hy het reeds genootskappe van die Ampersand-stigting en die Sundance-rolprentfees ontvang.

Hy woon en werk in Johannesburg.

Gerhard Marx skryf: My guns te ling-kunswerke blyk werke te wees wat meer in die kop as in die oog vassteek: kunswerke wat op enigmatiese wyse kompleksiteite verwoord, vereenvoudig, vertolk of verdraai.

Giuseppe Penone, deel van die Italiaanse Arte Povera-beweging, se Albero (boom)-reeks (sedert 1969) neem verskillende vorme aan, maar volg almal basies dieselfde beginsel.

Penone (gebore in 1947) neem enorme, industriële houtbalke, van tot 12 m lank, en verwyder laag vir laag die jaarringe op ’n argeologiese wyse om die jonger boom binne in die balk te ontdek.

’n Boom groei om sy eie struktuur en verdik van klein boom, jaarring vir jaarring, tot volwasse boom. Die jonger boom verdwyn nie; dit groei ook nie saam soos in die geval van ons liggame nie, maar word letterlik in tyd deur sy volwasse self verswelg.

Die oog in ’n houtoppervlak is in werklikheid die deursnee van dit wat tak was in die jong boom, en sou mens daardie tak volg, soos wat Penone dan doen, sou ’n mens op die jonger boom afkom.

Wat die werke asemrowend maak, is die absolute eenvoud waarmee ’n komplekse, poëtiese stelling gemaak word.

Daar is geen gom, geen lasplekke, geen konstruksie of fiksie in hierdie werke nie.

Die skeppingsproses vind plaas deur weglating, wat lei tot ’n letter like vorm van retrospeksie: Ons sien dit wat was – die boom in ’n vroeë stadium van sy ontwikkeling, en die verwerkte industriële houtbalk as boom.

Image1: Gerhard Marx
Image2: Giuseppe Penone se boom van 12 m, 1980, (6000 X 500 X 500 mm).




© 1999-2010 Global Art Information