Monday 26: Editor's Choice: Beeld: Visuele kuns by fees bied baie vir almal
2010-07-26
Johan Myburg Angus Taylor is vanjaar die Aardklop-feeskunstenaar. Dié kunstefees word van 28 September tot 2 Oktober in Potchefstroom aangebied.
Taylor se uitstalling, Klont – ’n dialoog met grond, is te sien in die hoofgalery op die kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Taylor se uitstalling bied ’n oorsig van werk wat die laaste klompie jare gemaak is en sluit in werke in verskeie media – klip, brons, gras en grond.
Vir die Aardklop-uitstalling maak hy ook enkele openbare kunswerke waarin hy saamgeperste grond gebruik.
Die spanning tussen monumentaliteit en tydelikheid is ’n aspek wat Taylor deurgaans boei en wat hy op verskillende maniere verbeeld in sy werk.
Saamgeperste rooi grond as “onbeeldhouagtige” materiaal word monumentaal aangewend, maar ondergrawe eweneens enige gedagte van permanensie.
Aardklop het ook jaarliks ’n gaskurator wat verantwoordelik is vir ’n uitstalling. Vanjaar bring die Fransman Paul Boulitreau die uitstalling L’origine du monde – This Is not a Porn Song na die fees.
Die titel van dié multimedia-groepuitstalling kom van die gelyknamige skildery van die 18de-eeuse kunstenaar Gustave Courbet.
Die uitstalling verken die fyn lyn tussen erotiek en pornografie; tussen projeksie en introspeksie.
Kunstenaars wat aan dié uitstalling deelneem, sluit in Diane Victor, Judith Mason, George Setshedi, Pontsho Sikhosana en Leora Farber.
Dié uitstalling is te sien in die Snowflake-gebou.
A verbis ad verbera – From Words to Blows, ook in die Snowflake-gebou, is ’n uitstalling van Richardt Stry dom waarin hy aspekte van kulturele masochisme verken; waarin letsels dui op psigologiese wonde.
Die Zimbabwiese kunstenaar Kudzanai Chiurai is bekend om sy kritiek op die samelewing en veral op gebeure in sy vaderland. Sy Dreamer on the Other Side sluit in skilderye en foto’s en is te sien in die Snowflake-gebou.
Mark Attwood se The Artists’ Press net buite Wit rivier het die afgelope 20 jaar daartoe bygedra dat grafiese werk van talle kunstenaars beskikbaar geword het. Van die kunstenaars wat al by hom drukwerk gedoen het se werk word uitgestal op die uitstalling Painters Who Print.
Dié uitstalling is te sien in die Alumni- saal op die NWU-kampus.
Ingrid Winterbach se Portrette en ander weergawes, ook in die Alumni-saal, bestaan uit pastelportrette van kennisse van die kunstenaar, maar ook van vreemdelinge.
Die ATKV het verlede jaar sy Skilder met woorde op Aardklop vertoon. Vanjaar is Skilder met woorde II terug met ’n versameling kunswerke en gedigte wat ook voorgelees word. Onder die deelnemers wat saamwerk aan ’n kunswerk/gedig is Stephan Erasmus en Bernard Odendaal.
Skilder met woorde II is te sien in die Perskor-galery op die NWU-kampus.
Ander uitstallings wat op Aardklop aangebied word, sluit in die werk van die wenners van die 2010 Spier Contemporary; Streek, ’n uitstalling deur Potchefstroom-kunstenaars; Stand, met die werk van Pauline Gutter; Stasis, met werk deur Steven Bosch; en The Paris-Jozi Collection met litografiese werk deur Hanneke Benade, Johann Louw, Lehlogondo Mashaba, Musha Neluheni en Pontsho Sikhosana.
Dié werke is gemaak tydens die ses kunstenaars se verblyf by die Atelier Pons in Parys, Frank ryk.
Die jaarlikse Kunssafari begin op 27 September om 16:00 en is die ideale geleentheid om ’n oorsig te kry oor die visuele kunswerke wat op die fees te sien is. Bespreek deur Computicket.
- Vir meer inligting besoek die webwerf www.aardklop.co.za. Image: Angus Taylor, Aardklop se 2010-feeskunstenaar.
|
|