Wednesday 28: Editor's Choice: Beeld: Kollig op Maqhubela
2010-07-28

Johan Myburg
AVigil of Departure is die titel van die oorsig­uitstalling van die werk van Louis Maqhubela wat volgende week in die Standard Bank-galery in Johannesburg begin.
Marilyn Martin is die kurator van dié uitstalling wat Maqhubela se rol in en bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns ondersoek.
Die werke op die uitstalling is gemaak tussen 1960 en 2010.
Maqhubela het sedert sy vertrek na die buiteland in 1973 nie die erkenning in sy vaderland gekry wat hom toekom nie.

A Vigil of Departure is ’n manier om die kollig op Maqhubela te vestig.
Louis Khehla Maqhubela is in 1939 in Durban gebore.
In 1959, die jaar waarin hy matriek behaal het, het hy die tweede prys in ’n kunskompetisie behaal en sy werk is vertoon op die tweede Artists of Fame and Promise-uitstalling in die Adler Fielding-galery in Johannesburg.
Van 1957 tot 1959 het hy aan die Polly Street-kunssentrum in Johannesburg gestudeer onder Cecil Skotnes en Sydney Kumalo.
Polly Street was die eerste stedelike kunssentrum waar swart kunstenaars in die apartheidsjare opgelei is.
In die woorde van Maqhubela: “Polly Street het ons magiese wagwoord geword, ons ID, om toegang te kry tot die eksklusiewe wêreld van die Johannesburgse kunstoneel.”
In 1966 het hy die eerste prys behaal op die laaste Artists of Fame and Promise-uitstalling en ’n reis na Europa gewen.
Op hierdie reis het hy onder meer kennis gemaak met Douglas Portway, die Suid-Afrikaanse kunstenaar wat hom in Cornwall in Brittanje gevestig het.
Maqhubela het ná dié besoek semi-abstrakte en sensitiewe lynwerke in olie begin maak en gefokus op kleur as manier van uitdrukking.
Sy werk het minder van die Suid-Afrikaanse township-omstandighede weerspieël.

Sedert 1978 woon en werk Maqhubela in Londen.

Abstraksie het ’n groter rol begin speel in sy werk (soos in Composition, 1972) en sedert 1990 het dit meer nie-figuratief geword, gedra deur sterk simboliek.

A Vigil of Departure is te sien van 3 Augustus tot 18 September in die Standard Bank-galery, Johannesburg.

Image: Louis Maqhubela se Composition, 1972, olie op papier (51,7 x 58,7 cm), is een van die werke op die oorsiguitstalling A Vigil of Departure, wat in Augustus in Johannesburg te sien is.




© 1999-2010 Global Art Information