Saturday 31: Editor's Choice: Die Burger: Chris Diedericks se werk soos tydkapsule
2010-07-31

Franci Cronjé
Vandat ek voorgestel is aan die beginsel van kritiese denke in mediastudies was my kop nooit weer dieselfde nie.

Maar laat ek by die begin begin: Getoë in ’n soliede Calvinistiese huishouding deur twee onderwyser-ouers, het ek my grootmenslewe blinkoog begin met grootse idees van onderdanigheid en verdienstelikheid.

My eerste brood en botter was as fotograaf in die staatsdiens, maar fotografie as passie het my eers waarlik getref ’n paar jaar later toe ek beeldende kuns gaan studeer het.

Op die rype ouderdom van 35 was ek gekonfronteer met skilders en beeldhouers wat heeltemal anders oor fotografie gedink het as die voorstedelike funksionele fotograaf wat fokus op groepfoto’s en fabrieke.

Kuns het vir my ’n taal geword waarin ek ’n gedagte kan uitdra wat deur waardeerders op verskeie maniere of dieptes verstaan kan word.

Deesdae spits ek my aandag op die uiting van konseptuele denke in kuns in die algemeen.

My kuns is medium-bevry. Ek raak opgewonde oor die kreatiewe denke wat uiting kry in visuele kunste, maak nie saak of ek verf of fotografeer, of albei nie; ek besing die idee van ’n goeie idee.

Toe ek Chris Diedericks se Feast of Foolsnou die dag vir die eerste keer sien, was dit so ’n gevoel van dèja vu, maar op steroïede. Want hier, in hierdie fisiek klein werkie, maal al my eie verwysings opgekrop in een vrot hand en voet met drie vingers van subtiele greep amper weggesteek bo in die raam. Dit verwys bietjie na ’n tydkapsule, hierdie klompie op-die-oog-af lukrake onderwerpe. ’n Holte-ruimte waarin die artikels woon, laat my instinktief my neus nader bring, snuffel, op soek na die mufreuk van vars-ou boombas en verrotte blare. Alles het afgesak ondertoe, asof iemand nie mooi die instruksies van “This side Up” gelees het nie.

Sulke werke spreek, nee, skree altyd op my. Soos die twee literêre werke, my gunsteling-kortverhaal Die Drie Kaalkoppevan Jan Rabie, en Triomf van Marlene van Niekerk, wat ek nooit uit my kop sal kan vee nie.

Voeg hierby een van my ander gunsteling-verwysings, die rolprente van Peter Greenaway, met sy etenstafels wat lewe van klein gogga-aasvoëls en verrottende vleis; dan kom ons by elkeen van ons se leefwêreld, by die media waarsonder ons nie onsself kan meet nie, hulle wat ons daaglikse gevoel versterk van “There but for the grace of God go I”.

Ons loer na ander se leed, ons skud die kop, en maak ons afleidings. Ons is die regter, jurie en vonnisopleggende, die skare wat beslis.

Ná hoeveel jare, sê ons vir mekaar, uiteindelik ken ek my buurman. Want ek het hom nou deur die oog van die koerant gesien. Verdomme.

* Franci Cronjé woon en werk in Kaapstad. Haar werk is op die oomblik te sien op die uitstalling Es(Cape)in die Mackiestraat-galery van die Kunsvereniging Pretoria.




© 1999-2010 Global Art Information